Outisme hoef nie lewe te kniehalter – Beeld Netwerk24
Die idee dat outisme “genees” of die diagnose “omgekeer” kan word, is wêreldwyd omstrede. Liezel de Lange het met ma’s en kundiges gesels wat in dié “wonderwerk” glo.
Daniel Swanepoel was vlak voor sy vierde verjaardag nog in doeke.
Hy wou nie naby ’n swaai kom nie, was bang vir klimrame en wou nie eens probeer fietsry nie.
Hy het net tien woorde gebruik, die grootste deel van die dag vloermoere gegooi, was pal siek en het sleg geslaap. Sy ma, Liesl, kon skaars hul huis in Johannesburg verlaat.
“Ons kon nêrens heen gaan nie, nie eens winkel toe nie, want Daniel was bang vir die ligte,” vertel sy. “Kinderpartytjies was uit, want hy wou niks van die lekkernye eet nie. Hy wou heeltyd weet wanneer gaan ons huis toe.”
Outisme is toe by Daniel gediagnoseer. “Die boodskap was: Gaan google ’n skool wat hom sal vat,” sê Liesl. “Ek het gaan kyk na spesiale skole, maar kon nie my kind daar los nie.”
Toe kom daar hoop
Daniel is in 2010 by die nuutgestigte The Star Academy in Highlands-Noord, Johannesburg, ingeskryf vir 30 uur se terapie per week.
Die sentrum gebruik die program van die Amerikaanse sentrum vir outisme en verwante kwale (Card). Card se toegepaste gedragontleding (ABA)-program is ’n geïntegreerde ingrypingsplan waarin verskeie terapeute veral fokus op kommunikasie en gedragskondisionering.
Daniel (8) is vandag in gr. 1 in ’n hoofstroomskool in Randburg. Hy het ’n fasiliteerder wat hom daagliks help en hy pas goed aan, vertel Liesl.
“Hy begin ook toenemend gedrag aanleer van neurotipiese maatjies en is ’n gelukkige kind.”
Outisme is op tweejarige ouderdom ook by Daniel se kleinboet, Emile, gediagnoseer. Hy vorder ook fluks danksy The Star Academy.
“Outisme is ’n behandelbare toestand,” glo Elana Gerschlowitz, wat The Star Academy begin het. “Nie alle kinders sal herstel nie, maar sommige sal en almal sal verbeter met ingryping.”
Elana se seun David (10) werk saam met twee gedragsterapeute in ’n terapiekamer. Die een terapeut wys vir hom ’n piesang en skryf dan die woord op papier.
Tot op sewe het David nie ’n woord gesê nie. Nou kan hy al 20 woorde uitspreek.
Erge outisme is op driejarige ouderdom by hom gediagnoseer. Hy het nie gereageer op sy naam nie, kon nie opdragte verstaan nie en glad nie kommunikeer nie.
“Die boodskap (van die dokter wat die diagnose gedoen het) was: Sterkte en sit die kind in ’n inrigting,” onthou Ger- schlowitz. “In Suid-Afrika word aanvaar outisme is ’n lewenslange en ook verstandelike gestremdheid. Dis eenvoudig nie waar nie.”
Te besige wêreld
Dr. Dhershnie Govender se seun is op vyf gediagnoseer.
Sy is ’n algemene praktisyn wat nou spesialiseer in dieet vir outistiese kinders.?Al hoe meer navorsing wys dieet het ’n wesenlike uitwerking op sulke kinders se gedrag. “Outisme is ’n abnormale reaksie op ’n normale stimuli,” verduidelik Govender. “Dié kinders word maklik oorgestimuleer.
“ ’n Neurotipiese persoon kan ’n gesprek voer en fokus op dit wat die ander persoon sê. ’n Outistiese persoon hoor ook die karre in die pad, iemand wat elders praat en die grassnyer.
“Sy brein kan nie agtergrondklanke blokkeer nie.”
Dáárom sal ’n outistiese persoon in ’n te besige omgewing (met byvoorbeeld baie klank of lig en kleur) oorlaai word en byvoorbeeld sy of haar kop klap en dreunsing of skreeu.
Volgens Govender word ABA gebruik om outistiese kinders stelselmatig bloot te stel aan dit waarop hulle “oorreageer”.
“Outistiese kinders is byvoorbeeld dikwels baie puntenerig oor wat hulle eet. Sommige sal net een soort kos eet, ander sal weer net soliede kos.”
Dit kan so erg wees dat iemand nie langs die kind spinasie kan eet as die kind groen kos nie kan verdra nie.
Met ABA begin hulle deur ’n bietjie spinasie op ’n bord op die verste hoek van die eetkamertafel te sit. As die kind dit met etenstyd verduur, word hy ryklik beloon met iets soos ’n lekkerny. Die bord word bietjie-vir-bietjie nader geskuif totdat die kind die spinasie teen sy lip hou, dan op sy tong en uiteindelik eet; met die besef dat die spinasie geen bedreiging inhou nie.
Aangeleerde vaardighede
Die kinders word ook geleer wat gepaste gedrag en kommunikasie is. Oral in die sentrum hoor jy terapeute sê “gebruik jou woorde” of “verduidelik wat jou pla” as die kinders ongedurig raak.
Peter Farag, ’n Amerikaanse Card-kundige, beklemtoon dat die ABA-program vir elke kind aangepas word. “Die omvang en kenmerke van elkeen se outisme verskil drasties.”
Farag vertel van Andrew Kayser (skuilnaam), met wie hy op 13-jarige ouderdom met ABA begin werk het. “Teen daai tyd kon hy al goed praat, maar daar was groot sosiale probleme.”
Andrew wou nét oor die Golfoorlog praat – ’n belangstelling wat sy portuurgroep nie gedeel het nie. Hy was ook ’n “klikbek”. Boonop was hy obsessief oor verkeersligte en kon ure daarna staar.
Andrew is nou 22 jaar oud, vang vanjaar graad en het reeds ’n werk. Hy het ’n groot vriendekring en ry selfs soms te vinnig oor ’n verkeerslig.
“Talle kundiges sal nie saamstem nie, maar die outismediagnose kan omgekeer word soos in die Lovaas-studie van 1987,” sê Farag.
Daarin is outistiese kinders met gedragsterapie (waarop ABA geskoei is) aan die Universiteit van Kalifornië behadel. Ná minstens twee jaar van ure se terapie daagliks is die diagnoses by 47% van die kinders omgekeer.
Intussen neem die diagnoses wêreldwyd toe. Die amptelike Amerikaanse syfer (wat as die standaard dien) is 1 uit elke 88 mense.
Die presiese oorsaak van outisme laat wetenskaplikes nog kopkrap. Die vernaamste teorieë wentel om genetika en omgewingsfaktore.
Wanneer om hulp te soek:
Die meeste kinders in die outismespektrum word rondom driejarige ouderdom gediagnoseer, maar by sommige is die tekens al vroeër daar. Die sleutel tot suksesvolle ingryping is om die probleem so vroeg moontlik te diagnoseer en dadelik met uitgebreide en gepaste terapie te begin, sê Peter Farag.
- Kry professionele raad as jou kind:
- Op 12 maande nie babbel, na dinge wys of betekenisvolle gebare maak nie.
- Teen 16 maande nie ’n enkele woord sê nie.
- Nie twee-woord-frases gebruik teen 24 maande nie.
- Nie reageer op sy of haar naam nie.
- Taal- en sosiale vaardighede skielik en onverklaarbaar verswak.
- Nie oogkontak maak nie.
- Nie weet hoe om gepas met speelgoed te speel nie – dus nie weet hoe om “reg” met ouderdomgerigte speelgoed te speel nie.
- Aanmekaar speelgoed of ander voorwerpe in rye pak.
- Buitengewoon verknog is aan ’n bepaalde speelding of voorwerp – sal byvoorbeeld daarop aandring om die speelding selfs bad toe te vat.
- Nie glimlag nie.
- Lyk asof hy of sy ’n gehoorprobleem het – dus nie reageer nie.
Source:
https://www.netwerk24.com/Ontspan/Outisme-hoef-nie-lewe-te-kniehalter-20130402